Ons uiteindelike bestemming was Kiritimati, 'n klein eiland wat deel vorm van Kiribati. Kiribati is 'n groep eilande met 'n bevolking van net oor 100 000 mense. Dis 'n arm land en is een van die lande wat in die toekoms ernstig bedreig sal word as die voorspellings oor aardverwarming realiseer. Kiritimati was in die vyftigerjare gebruik deur die VSA en VK om kerntoetse te doen. Die eerste besetting van die eiland was in WOII toe die eiland as 'n basis gebruik is deur die Geallieerdes. Die kerntoetse is ongeveer 450 km van die eiland gedoen en vanaf die eiland gemonitor. Daar is dus geen effek op die eiland self nie. Tot in die veertigerjare was die eiland onbewoon en is eers daarna betrek deur Polinesiërs van eilande in die groter omgewing, meestal van die Cook Eilande.
Daar gaan nie veel op die eiland aan nie en dit is redelik onvrugbaar omdat dit so laag is. Die grond is baie sout. Die mense is arm en maak 'n bestaan uit die verkoop van kokosneute, maar die mark is maar treurig. Verder vang hulle vis en verkoop dit aan visserye van elders. Dan is daar 'n lewendige handel in tropiese vis vir vistenke, veral in Sjina.
Daar is nie regtig veel sprake van toerisme nie want daar gaan nie veel aan nie. Geen restaurante, supermarkte of iets waarmee toeriste hulself mee kan besig hou nie. Toe ons daar was was dit net die twee van ons op die eiland. Ons het die hele hotel vir onsself gehad.
Die leuse is: "Kiritimati is for travellers, not tourists." Die meeste mense wat daar kom is hengelaars, waarvoor Kiritimati baie bekend is. daar word gereeld wêreldrekords aangeteken vir die vis wat gevang word. Dan is daar nog 'n klompie mense wat kom om te duik. Dit was ons. Meeste besoekers is uit Australië of Hawaii.
Laastens, Kiritimati is reg in die middel van die Stille Oseaan, 12 ure verskil van ZA. Ongeveer op die ewenaar.
Ons het van Fiji af gevlieg, vyf ure en teen die tyd dat ons daar gekom het het ons 10 tydsones oorgesteek vanaf Dubai.
Op die lughawe. "Is jy seker jy het die Vliegtuig volgemaak? Ek moet nog Hawaii toe."

Terminaal I, Internasionale aankomste.

Afdraaipad na die hotel toe. Die hotel is die ou militêre basis wat deur die regering bedryf word. Geen raaiskote oor die standaard word toegelaat nie.


Daar is nie 'n Europcar of Avis nie. Jy vra een van die locals om sy kar te huur. Dis redelik maklik want daar is nie juis paaie nie en nie regtig iewers om heen te ry nie. Hier was ons eerste probeerslag. Al die voertuie is tweedehands uit meestal Japan.

Tweede voertuig.

Daar is nie juis diere op die eiland nie, maar darem seevoëls. Omdat hulle nie aan mense gewoond is nie is hulle nie bang nie.

Die geel drade is iets soos dodder wat jy in lusern kry, net baie erger. Dit vergroei alles wat in die pad kom.

Een dag het ons na 'n eiland in die Lagoon gegaan met 'n gids. Dit is 'n bird santuary so jy mag net met 'n gids gaan. Merrycan geniet haar gate uit want dit is haar belangstelling.






Ons het die hele hotel vir onsself gehad. Ons huisie was op die strand en die hele strand was ons sin. Niemand daar nie. Elke oggend daar sit en koffie drink en in die aand sundowners gedrink.

Die strand en die omliggende stook is besaai met koraal en ou skulpe. Wat egter snaaks is, is die kleur van die koraal en skulpe. Dit is donker grys en lyk of dit geëts is. Aan die onderkant is dit normaal gekleur. Niemand kon ons egter sê wat die oorsaak is nie. Het dit nog nooit gesien nie.

Om 'n visum vir Kirikati te kry is nie eenvoudig nie. Die land is te klein om ambassades te hê. So ek moes 'n visum kry van 'n erekonsul wat in Wallis bly. Hy het vroeër vir 'n paar jaar daar gewerk en is met 'n Kiribati vrou getroud. Hy het my aangeraai om Peter Langston op te soek. Hy is 'n Engelsman wat na WOII Nieu Seeland toe geïmmigreer het. Hy is 'n landmeter en het gehelp om kokosneute te help vestig en het die opmetings gedoen. Hy het toe op die eiland agtergebly en is met 'n plaaslike vrou getroud.
Die huisie is eenvoudig maar hy lyk gelukkig. Lekker gesels en hy het dit geniet om met iemand van die Weste te gesels.

Na 'n week was dit tyd om totsiens te sê. Ons het verlief geraak op die plek en 'n deeltjie het agtergebly.
Terminaal II, buitelandse vertrekke.

Doeane.

Business lounge.

Daarna was dit terug Fiji toe.
Ons groot missie was om te duik en dié foto's sal ek later opsit.